Sterk saak vir weiering van borg vir Maree

Die borgaansoek van die vermeende pedofiel Johann Maree, is uitgestel tot 14 September vir kruisverhoor. Getuienis wat tot dusver gelewer is maak ‘n baie sterk saak vir die weiering van borg. Maree ken sy slagoffers baie goed en kan hulle manipuleer om nie te getuig nie. Hy het ook familie in Suid-Afrika en Australië en kan moontlik die land vlug. Inspekteur Christiana Simaho het ook aan die hof gesê dit is nie in openbare belang om op borg vry te laat nie. Maree, 50, is verlede jaar in hegtenis geneem op 40 klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het. Hy het volgens die staat ook video’s gemaak en dit op die donkerweb geplaas. Hy ontken al die klagtes teen hom. Maree is ‘n voormalige polisieman en reservis vir Nampol.