Steinhausen-brand onder beheer

Die Steinhausen-brand is laat Sondagmiddag onder beheer gebring. Meer as 15 plase het afgebrand met die vuur wat volgens berigte op die regering se hervestigingsplaas in die gebied, Riverside, begin het. Onbevestigde berigte lui dat onverwantwoordelike houtskoolproduksie die vuur veroorsaak het. Die omvang van die skade moet nog bepaal word. Intussen word daar berig dat daar 604 plase tussen Mei en September vanjaar deur veldbrande verwoes is. ‘n Totaal van 2,5 miljoen hektaar is afgebrand wat 93 persent van die Daan Viljoen Nasionale Park en 22 persent van Etosha insluit. Verskeie woude is in die Kavango Wes-streek verwoes en kwarantynkampe wat vir bek- en klouseer gebruik word, is ook in puin gelê. Daar word verwag dat klimaatsverandering ‘n wesenlike impak op veldbrande in die toekoms sal hê.