Stad Windhoek se salarisse is buitensporig

‘n Busbestuurder by Stad Windhoek verdien 600 000 Namibiese dollar jaarliks. Daar is 50 aangestel en net tussen 25 en 30 word daagliks gebruik. Volgens Jürgen Hecht, ‘n lid van die stad se bestuurskomitee, is daar verliese van 70 miljoen Namibiese dollar by die busdiens aangeteken. Hy voeg by dat na-aftrede gesondheidsorgvoordele vir 593 afgetrede personeel die munisipaliteit 2,3 miljoen dollar maandeliks kos, amper 4 300 dollar per lid. Volgens Hecht, verdien die stad se werknemers tussen 30 tot 40 persent bo markverwante salarisse met lede van die Stadspolisie wat twee keer soveel as enige Nampol-personeellid van enige gelyke rang verdien. Die stad se bedryfslaste oorskry ook bates met meer as 1,2 miljard dollar. Hy voeg by dat die munisipaliteit tans ‘n 200 miljoen dollar oortrokke fasiliteit benut om sy daaglikse bedrywighede uit te voer.