Stad Windhoek se nuwe boumaatreëls irriteer federasie

Die Namibiese Federasie vir Konstruksie-nywerhede het skerp gereageer op die nuwe maatreëls vir spesifikasies vir boukontrakteurs wat Stad Windhoek daargestel het. Volgens die federasie se algemene bestuurder Bärbel Kirchner, is die nuwe reëls teenstrydig met die algehele doel om die beskikbaarheid van behuising in die hoofstad te bespoedig. Sy sê daar is onrealistiese opnames vir kwaliteit wat die standaard SABS-praktyke ver verbysteek en kostes opstoot. Stad Windhoek sê op sy beurt die maatreëls is daargestel na wye konsultasies met belanghebbendes en die woordvoerder Harold Akwenye het aan plaaslike media gesê hulle het gepoog om nie boukostes te veel op te stoot nie. Die stad se burgemeester Sade Gawanas het onlangs gesê dat behuising een van die stad se hoogste prioriteite is. Kirchner sê die maatreëls maak nie net die proses duurder nie maar vertraag dit ook.