Springbok Vroue-sewes is Afrika-kampioene

Die Springbok Vroue-sewesspan se terugkeer na die internasionale arena het in Tunisië in triomf geëindig. Hulle het die Rugby Afrika Vroue-sewes-titel ingepalm deur Madagaskar in die eindstryd in Monastir 15-14 te wen. Die Suid-Afrikaners het in Desember 2019 laas aan ‘n internasionale toernooi deelgeneem. Met die oorwinning in Tunisië het hulle ook kwalifiseer vir die Statebondspele in Birmingham in Julie. Omdat Madagaskar die eindstryd gehaal het, het hulle ook gekwalifiseer vir die Rugby Wêreldbeker-sewes in Kaapstad in September.