SPORT

Die jaarlikse Namibian Newspaper Cup is gekanselleer. Die gewilde toernooi vir sokker en netbal sou aanvanklik verlede jaar tydens Paasfees plaasgevind het maar is tot 26 Augustus vanjaar uitgestel. Dit sou oor drie dae in Oshakati plaasgevind het. Die organiseerders, die Namibian-dagblad, die Namibiese Sokkervereniging en Standard Bank sê die risiko in verband met die pandemie is te groot. Daar is ook ‘n 30-dag verbod op kontaksport so spanne kan nie oefen nie. 

Rugby: Die stryd vir die eerste plek op die punteleer in die Suid-Afrikaanse Pro14 Reënboogbeker sal die naweek in Durban op die spits gedryf word wanneer die Sharks en die Bulls vir alle praktiese doeleindes in ‘n mini-eindstryd teen mekaar te staan kom. Nadat die Bulls Vrydag met ‘n drie in die doodsnikke teen die Stormers in Pretoria gewen het, beteken dit die Sharks kan steeds eerste eindig. Die Durbaniete sal die manne van Pretoria dan met ‘n bonuspunt moet klop en verhoed dat hul teenstanders enige punte op die punteleer verdien.