Speedo sê koebaai vir Russiese swemmer

Die swemklere-vervaardiger Speedo het sy borgskap van die Russiese Olimpiese kampioen Evgeny Rylov onmiddellik beëindig, nadat hy by president Vladimir Putin se pro-oorlog-saamtrek op die Luzhniki-stadion in Moskou verskyn het. Hy het in verlede jaar se Spele in Tokio goud gewen in die 100- en die 200-meter-rugslag. Rylov is volgens berigte een van agt atlete wat by verlede Vrydag se saamtrek gesien is en die letter ‘Z’ op sy uitrusting gedra het. Dit is nou die simbool vir Rusland se inval in Oekraïne. Speedo het die oorlog in Oekraïne ten sterkste veroordeel.