Somaliese president skors sy premier

President Mohamed Abdullahi Mohamed van Somalië het dié land se eerste minister, Mohamed Hussein Roble, geskors hangende ‘n ondersoek na beweerde korrupsie teen hom. Roble word daarvan beskuldig dat hy met die ondersoek na ‘n beweerde grondvergryp ingemeng het. In ‘n verklaring het die presidensie ook gesê Roble word daarvan beskuldig dat hy die huidige parlementêre verkiesings vertraag en ‘n ernstige gevaar vir die kiesstelsel inhou. Dié aantygings kom te midde van Somalië se herstrukturering met die hulp van die Verenigde Nasies en die land se stryd teen al Shabaab. Somalië se laaste behoorlik funksionerende sentrale regering was in 1991 aan die stuur van sake.