Somalië op die rand van hongersnood

Die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Aangeleenthede waarsku dele van Somalië is op die rand van hongersnood nadat vier swak reënseisoene ‘n verwoestende droogte veroorsaak het. Daar word berig Martin Griffiths van die kantoor sê in ‘n verklaring hongersnood sal waarskynlik tussen Oktober en Desember in die suidelike en sentrale deel van Somalië voorkom. Die ergste droogte in vier dekades sal volgens voorspellings voortduur. Dit word deur klimaatsverandering aangevuur en raak ook Ethiopië en Kenia, terwyl ten minste 1 miljoen mense in Somalië ontwortel is.