Soldate trek petisie op teen inenting

Plaaslike media berig dat lede van die Namibiese weermag ‘n aanlynpetisie opgetrek het teen die verpligte inenting van alle lede van die mag. Luidens die petisie is die opdrag teenstrydig met die Grondwet en skend dit die regte van die soldate. Hulle meen verder dat dit chaos in ander regeringsdepartemente en ministeries sal veroorsaak. Luidens berigte het talle soldate by basisse regoor die land nog nie die opdrag oor die inenting ontvang nie. Die weermaghoof Martin Pinehas het op 29 September die omsendskrywe onderteken maar die soldate eis antwoorde by die minister, Frans Kapofi. Onbevestigde berigte lui dat die meerderheid van die lede van die vloot teen die inenting gekant is. Kapofi het vroeër gesê daar sal geen probleem wees met die opdrag nie en dat die soldate die opdrag sal gehoorsaam.