Soedannese betogers met traanrook bestook

Soedannese veiligheidsmagte het traanrook afgevuur op betogers wat gekant is teen verlede jaar se militêre staatsgreep. Die jongste versetoptrede vind plaas voor Amerikaanse gesant na die Horing van Afrika, David Satterfield, en assistent-sekretaris van buitelandse sake vir Afrika, Molly Phee, hierdie week in Khartoem aankom om ‘n boodskap van “geregtigheid” vir Soedannese oor te dra. Internasionale nuusagentskappe berig betogers met die Soedannese vlag, het in sentraal Khartoem sowel as in Wad Madani, ‘n stad in die suide, saamgedrom. Veiligheidsbeamptes is in groot getalle ontplooi en het die betogers in Khartoem met traanrook gebombardeer.