Skrikwekkende syfers deur !Gawaxab bekend gemaak

Die goewerneur van die Bank van Namibië Johannes !Gawaxab sê kommersiële banke het beslag gelê op 230 miljoen Namibiese dollar se eiendom in die eerste ses maande van die jaar. Die syfer is baie hoog wanneer dit vergelyk word met die gemiddelde bedrag van 100 miljoen dollar jaarliks tussen 2017 en 2019. !Gawaxab het bygevoeg dat voertuie met uitstaande skuld van 21 miljoen dollar tussen Januarie en Junie ook opgeëis is. Ongeveer 1 700 besighede het hulle deure sedert 2019 gesluit met 40 persent in 2019, 33 persent in 2020 en 27 persent in die eerste nege maande van die jaar. Volgens hom was die meeste maatskappye in toerisme, konstruksie, eiendom en kleinhandel. Verlede jaar het net meer as 12 200 mense hulle werk verloor met 1 444 wat in die eerste ses maande van die jaar afgedank is.