Sierra Leone verander kiesstelsel om vroue se politieke deelname te verhoog

Die President van Sierra Leone het beloof om die kiesstelsel te wysig en om vroue se deelname aan die politiek te verhoog, as deel van ‘n reeks ander voorgestelde grondwetlike hervormings in dié Wes-Afrika-staat. President Julius Maada Bio het tydens ‘n seremonie in die hoofstad gesê die land sal oorskakel na ‘n proporsionele kiesstelsel. Die parlement in Sierra Leone, ‘n verarmde voormalige Britse kolonie, gebruik tans die eerste-verby-die-wenstreep-stelsel. Volgens ‘n grondwetlike oorsig wat in Desember gepubliseer is, sluit die hervormings in dat ten minste 30 persent van die kandidate in verkiesings, vroue moet wees.