Shannon se vermeende moordenaars verskyn

Azaan Madisia en haar broer Steven Mulundu, wat beskuldig word van die moord op Shannon Wasserfall, sal weer vandag in die Walvisbaai-landdroshof verskyn. Hul saak is op 31 Augustus tot vandag toe uitgestel om regshulpverteenwoordiging te bekom. Madisia en haar jonger broer is vroeg in November verlede jaar in hegtenis geneem. Daar word aangevoer dat hulle Wasserfall in April verlede jaar vermoor het en haar liggaam in ‘n vlak graf net buite die kusdorp begrawe het. Volgens die staat het Mulundu sy ouer suster gehelp om Wasserfall se liggaam te versteek. Shannon se dood het gelei tot wydverspreide optogte teen geslagsgeweld.