Ses sluipmoordbeskuldigdes op gesondheidsbeampte bly agter tralies

Ses beskuldigdes in die sluipmoord op die Gautengse gesondheidsbeampte Babita Deokaran bly in aanhouding ná hulle eerste hofverskyning vandag in Johannesburg. Hulle word aangekla van moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. ‘n Sewende persoon wat Vrydag in hegtenis geneem is, is weens ‘n gebrek aan bewyse vrygelaat. Die Valke verwag dat nog verdagtes gearresteer sal word. Die beskuldigdes sal na verwagting op 15 September om borgtog aansoek doen. Deokaran was ‘n getuie in die ondersoek na korrupsie met die verkryging van persoonlike beskermingstoerusting in die provinsie.