Senutergende rugby op Ellispark

Ondersteuners se emosies was behoorlik op loop met die All Blacks wat die Springbokke met 35-23  in ‘n spannende tweede toets gisteraand op Ellispark geklop het. Met dié  oorwinning het Nieu-Zeeland die Vryheidsbeker behou wat sedert 2010 al in hulle uitstalkas staan. Die Bokke het goed gedoen deur ‘n agterstand van 15-0 om te swaai, maar hulle kon nie verder op hulle voorsprong van 23-21 laat in die tweede helfte kapitaliseer nie. Die Bokke se drieë is gedruk deur Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi, terwyl Handré Pollard twee doelskoppe en twee strafskoppe bygedra het. Die Springbok-vroue het Spanje met 44-5 in ‘n voorwedstryd verslaan. Die Suid-Afrikaners het hulle vorige drie kragmetings teen Spanje verloor.