Seevoël vrektes: Dis dalk voëlgriep

Die vrektes van kormorante en seeswaeltjies tussen Walvisbaai en Swakopmund, en die vrektes van ander voëlspesies by die guano-platform net noord van Walvis, wek kommer. Plaaslike media berig dat die Lüderitz Marine Research-groep ‘n waarskuwing uitgereik het dat lede van die publiek nie aan die diere raak nie omdat die vrektes moontlik deur voëlgriep veroorsaak kan wees. Simptome sluit lomerige gedrag, die onvermoë om regop te staan, stuiptrekkings en meer, in. Die kantoor van die staatsveearts het reeds monsters geneem wat op die oomblik ontleed word. Die siekte hou ‘n baie groot risiko vir die land in omdat persone wat aan die voëls gevat het ander voëls kan besmet.