Sê hallo vir Charlie, die klepto-kat

Die eienaar van ‘n Britse kat wat feitlik alles steel waarop hy sy pote kan lê, het nou ‘n “klepto-boks” buite neergesit sodat die regmatige eienaars hulle gesteelde items kan terugkry. Die eenjarige Charlie bring alles huis toe – van speelgoed, messegoed, balle, wasgoedpennetjies en glase tot speelgoed-skaatsplanke. Sy eienaar, Alice Bigge van Bristol, sê sy het nou die boks buite haar muur neergesit waarin sy die gesteelde voorwerpe plaas sodat die eienaars dit kan kom haal. Sy sê Charlie is veral versot op plastiek dinosourusse.