Schlettwein lig landbou-uitdagings in Berlyn uit

Die Namibiese minister van landbou, Calle Schlettwein sê daar is verskeie uitdagings vir landbou en voedselproduksie in die land. Schlettwein het die virtuele landbouministers se vergadering in Berlyn toegespreek by die 14de Globale Forum vir Voedsel en Landbou. In sy mening is die verswakking in die kwaliteit van grond een van die wêreld se grootste uitdagings en die impak hiervan word grootliks in ontwikkelende lande gevoel omdat die kapasiteit om dit aan te spreek skraps is. ‘n Groot deel van die Namibiese bevolking maak staat op goeie grond om kos op die tafel te sit. Watervoorsiening en die volhoubare benutting van bronne is ook problematies en dra by tot swak voedselsekerheid. Schlettwein het ook melding gemaak van die feit dat billike toegang tot inligting en bekostigbare tegnologie ook vooruitgang belemmer en onregverdige subsidies in ontwikkelde lande skep ‘n onregverdige speelveld vir landbouprodukte.