Saskok kan nie SA medaljewenners beloon

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee, Saskok, het nie genoeg geld om die land se twee Olimpiese medaljewenners te beloon nie. Daarom sal Barry Hendricks, die president van Saskok, ná sy terugkeer van Tokio bakhand by ander rolspelers in Suid-Afrikaanse sport moet gaan staan om ’n finansiële meevaller vir Tatjana Schoenmaker, Bianca Buitendag en die suksesverhale by die Paralimpiese Spele te probeer beding. Hendricks het uit Tokio aan Netwerk24 gesê Saskok het nooit onderneem om Suid-Afrikaanse medaljewenners vir hul prestasies te beloon nie, omdat hulle geweet het daar is nie geld in hul spaarvarkie daarvoor nie.