Sakesektor moet help met opknapping van sokkerstadion

Die Namibiese sportministerie doen ’n beroep op die sakesektor om geld te skenk vir die rehabilitasie van die Onafhanklikheidstadion in die hoofstad. Volgens die ministerie se uitvoerende direkteur Audrin Mathe is die stadion, wat in die laat 1950’s gebou is, nie geskik om enige internasionale byeenkomste aan te bied nie. Die opknapping van die stadion is nie net om voorsiening te maak vir die aanbieding van die 2027 Afrikabeker-toernooi, Afcon, waarin Namibië en Botswana belangstelling uitgespreek het nie, maar ook vir die nasionale sokkerspan, die Brave Warriors wat tans Suid-Afrika gebruik as hul tuisveld. Hoewel die regering 50 miljoen Namibiese dollar bewillig het vir die opknappingswerk, sal die totale kost 98 miljoen dollar beloop. Die Onafhanklikheidstadion het tans ‘n kapasiteit van 25 000 sitplekke, en as die Afcon-bod suksesvol is, sal dit tot 45 000 opgegradeer moet word.