SA-variant van Covid loop oop in Brittanje

Bykans 600 mense in Brittanje het nou reeds die Suid-Afrikaanse korona-virus variant opgedoen ná gesondheidsamptenare sowat 650 000 mense getoets het. Die Departement van Openbare Gesondheid in Engeland het dié week nog 56 gevalle aangemeld. Die nuus volg na ‘n korona-virus variant met ‘n dubbele mutasie onlangs in die land aangemeld is ná dit die eerste keer in Indië sy verskyning gemaak het. ‘n Professor in geneeskunde aan die Universiteit van East Anglia, Paul Hunter, het gesê die dubbele mutasie wat ontdek is, kan baie meer problematies as die Suid-Afrikaanse en Brasiliaanse variante wees, wat slegs een ontwykingsmutasie het.