SA rand verswak na gerugte dat Ramaphosa gaan bedank

Suid-Afrikaanse media berig dat President Cyril Ramaphosa sy kabinet ingelig het dat dit die laaste keer is dat hy met hulle sal vergader. Hy sal vanaand die land toespreek. Daar is gerugte dat Ramaphosa vanaand sy bedanking sal aankondig. David Mabuza, adjunkpresident, sal dan die leisels oorneem. Intussen het die Suid-Afrikaanse rand vandag baie skerp tot byna 18 rand teen die Amerikaanse dollar verswak nadat gerugte die ronde begin doen het dat Ramaphosa dalk gaan bedank. Die rand het oornag verswak na die uitreiking van die voorlopige Phala Phala-verslag, wat ernstige vrae oor sy gedrag opper. Dit het daarna gestabiliseer, maar laatmiddag die swakste vlak sedert 4 November gehaal. Die rand was tot voor dié krisis relatief sterk.