SA pensioenfondse kan 45% kapitaal in infrastruktuur-projekte belê

Die Nasionale Tesourie in Suid-Afrika het aangekondig pensioenfondse sal toegelaat word om vanaf volgende jaar 45 persent van hulle kapitaal in infrastruktuur-projekte te belê. Die departement het regulasies vir die Wet op Pensioene gepubliseer, wat spaargeld van pensioenfondse beskerm deur ʼn beperking te plaas op die mate waartoe fondse in ʼn spesifieke bate mag belê. Die Tesourie sê die regulasies sal bydra om fondse groter toegang te gee tot potensiële beleggings. Dit sal egter steeds die finale besluit oor enige belegging by die trustees van elke fonds laat.