SA-owerhede sê steeds nee vir ivermektien

Net na Botswana se doktersvakbond sy ondersteuning vir die gebruik van ivermektien teen Covid uitgespreek het, het die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte gesê hy stem saam met die Amerikaanse Gesondheidsowerheid dat ivermektien nie gebruik moet word om Covid-19 te behandel nie. Die Amerikaanse owerheid is bewus gemaak van berigte van mense wat hulself met ivermektien behandel het. Sommige gebruik selfs die formule wat vir diere bedoel is. Die Suid-Afrikaanse owerheid sê om só ‘n middel te gebruik sonder die nodige toetsing en protokolle kan ‘n mens se gesondheid aantas en selfs tot die dood lei. Die owerheid ondersoek steeds toegang tot betroubare en gehalte-produkte wat ivermektien bevat wat veilig is vir menslike gebruik.