Russiese verdedigingminister, Noord-Korea hou militêre samesprekings
Die Russiese verdedigingminister, Andrei Belousov, het in Noord-Korea aangekom vir militêre samesprekings nadat die twee lande in Junie ‘n strategiese vennootskapsverdrag onderteken het. Die Rus is deur sy Noord-Koreaanse ampsgenoot, No Kwang Chol, in Pjongjang verwelkom, met begeleiding deur ‘n militêre orkes. Rusland en Noord-Korea het hulle militêre bande versterk sedert Moskou in Februarie 2022 met ‘n militêre operasie in Oekraïne begin het. Noord-Korea en Rusland val albei onder sanksies van die Verenigde Nasies, eersgenoemde weens sy kernwapenprogram en laasgenoemde weens die konflik in Oekraïne.