Russiese magte vaar Azovstal binne

Rusland het glo sy magte in die laaste gebied van weerstand in Mariupol, die Azovstal-aanleg, in gestuur. Terwyl dit nie bekend is hoeveel burgerlikes nog daar skuiling soek nie, berig internasionale nuusagentskappe dat daar ongeveer 200 is. Oor die naweek is 120 ontruim deur ‘n humanitêre korridor. Daar is ook lede van die Oekraïnse weermag wat weier om wapens neer te lê. Oekraïnse bevelvoerders sê Russiese tenks het die uitgestrekte aanleg, wat 11 vierkante kilometer groot is, aangeval en ‘n reeks tonnels en bunkers binnegegaan. Rusland probeer om die Oekraïne se toegang tot die Swartsee af te sny en het ook verskeie aanvalle in die ander hawestad, Odesa, geloods.