Russiese hof stuur Amerikaanse basketbalspeler nege jaar tronk toe

‘n Amerikaanse Olimpiese goue medaljewenner is in ‘n Russiese hof tot nege jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is op aanklagte van dwelmsmokkelary met misdadige voorneme. Die 31-jarige beroeps-basketbalspeler, Brittney Griner, is in Februarie op ‘n lughawe in Moskou in hegtenis geneem met damprook-houers met dagga-olie wat wettig is in die VSA. Sy het verlede maand skuld beken, met die hoop op ‘n ligter vonnis en sê sy het ‘n eerlike fout gemaak. Amerikaanse President Joe Biden het haar vonnis as onaanvaarbaar bestempel.