Rusland, Belarus se para-atlete gaan huis toe

Rusland het bevestig die land beplan nie om te appelleer teen die internasionale paralimpiese komitee se besluit om sy atlete te verbied om aan die Winterspele in Beijing deel te neem nie. Russiese en Belarussiese atlete sal die Chinese hoofstad dié naweek verlaat, nadat hulle deelname geweier is weens Rusland se inval in Oekraïne, met Belarus se steun. Hulle is aanvanklik toegelaat om onder ‘n neutrale vlag deel te neem, maar die besluit is omgekeer ná groot verontwaardiging. Die Russiese paralimpiese komitee sê die stap is polities-gemotiveerd en beskuldig die internasionale liggaam van dubbele standaarde.