Rovos Rail se wiele rol weer in Namibië

TransNamib beleef ‘n herlewing in die toerismebedryf sedert die Covid-pandemie dié sektor op sy knieë gebring het. Die Suid-Afrikaanse luukse trein Rovos Rail het onlangs sy eerste Namibiese treinsafari van tien dae sedert 2019 gedoen. Die trein met 18 waens, is vanaf die Ariamsvlei-grenspos met TransNamib se lokomotief gesleep. Die treinreis het Lüderitz, Keetmanshoop, Windhoek, Otjiwarongo, Tsumeb ingesluit en vandag op Swakopmund geëindig. Gaste het onder meer die Visrivier-canyon, Sossusvlei en Etosha Nasionale Park besoek. Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië, Gitta Paetzold sê dit is goeie nuus.