Romeinse pad in Brittanje ontdek

Werkers in Brittanje het in ʼn veld afgekom op wat moontlik ‘n Romeinse pad kan wees en van 2 000 jaar gelede dateer. Argeoloë sê die geplaveide pad, wat in Worcestershire ontbloot is, kan moontlik die beste voorbeeld van die Romeinse Ryk van sy soort wees in die Verenigde Koninkryk. Daar word berig die enigste bestaande paaie in so ‘n ongeskonde toestand van bewaring word in Pompeii en Rome aangetref. Die stuk, wat tien meter lank en 2,9 meter breed is, is tydens roetine-werk ontdek. Opgrawings is aan die gang en volgens kenners is alle aanduidings dat dit ‘n egte Romeinse konstruksie is.