Reuse skade aan die ekonomie
Volgens berigte vind geen invoer of uitvoer van vrag uit Europa en baie ander lande via Lufthansa plaas nie. Dit is omdat Paragon Aviation nog nie deur Lufthansa gesertifiseer is om grondhantering van vrag-invoere of -uitvoere via Hosea Kutako Internasionale Lughawe te doen nie. Blykbaar is die invoersertifisering met Lufthansa aan die gang, sonder enige afhandelingsdatum op die horison. Uitvoer met Lufthansa sal egter eers met ouditering en sertifisering begin sodra invoer vlot verloop en personeel deur Lufthansa opgelei is. Die aanstelling van Paragon Aviation op 19 Augustus sonder enige vooraf kennisgewing het chaos by die lughawe veroorsaak met internasionale vlugte wat herlei is omdat daar geen kontrakte in plek was nie en Paragon nie gesertifiseer is nie. Die situasie raak veral bederfbare vrag soos vis en vleis. Kosmos 94.1 Nuus het met Fritz Kaufmann, bestuurder van sakeontwikkeling by Transworld Cargo, gesels wat die berigte bevestig het.
Kosmos 94.1 Nuus het kontak gemaak met Lazarus Jacobs van Paragon Aviation. Hy wou geen kommentaar lewer nie en het Kosmos 94.1 daarvan beskuldig dat hy ‘n agenda het.