Ronaldo verlaat Man-U, klub dalk in die mark

Die voorspeler Cristiano Ronaldo gaan Manchester United na ‘n onderlinge ooreenkoms onmiddellik verlaat. Dit volg ná ‘n onderhoud verlede week met Piers Morgan, waarin hy sê die klub het hom verraai en hy het geen respek vir die bestuurder, Erik ten Hag nie. Hy het in twee termyne by Old Trafford, 145 doele in 346 wedstryde bygedra. Die klub sê in ‘n verklaring almal fokus steeds op die klub se vooruitgang onder Ten Hag en werk saam om sukses op die veld te verseker. Intussen word daar berig dat die klub verkoop kan word. Op die oomblik besit die Amerikaanse Glazer-familie Manchester United. Hulle het die klub in 2005 aangeskaf.