Rekeninghouers van SME Bank wil Geingob nader

Rekeninghouers van die bankrot SME Bank sê hulle sal President Hage Geingob nader om hulle by te staan om toegang tot hulle geld te kry. Die bank is reeds in 2017 gelikwideer na 200 miljoen Namibiese dollar oorgedra is na onder andere, die VBS Mutual Bank in Suid-Afrika. Die geld het verdwyn en sedertdien is die likwidateurs Dave Bruni en Ian McClaren druk besig, veral in die howe, om fondse terug te kry. Maar, volgens Daniel Nyaungwa, een van die rekeninghouers, het die twee reeds misluk en hulle wag steeds op geld wat hulle in rekenings by die bank gehad het. Hy meen Geingob moet antwoorde gee omdat hy handelsminister was toe die bank gestig is en dat hy ‘n voorstander van die bank was. Geingob ontken dit ten sterkste.