Rehoboth het groot probleme met drank, dwelms

Rehoboth het volgens die jongste syfers groot uitdagings met dwelms. In die afgelope drie jaar is 525 mense op die dorp op dwelm-verwante misdade gearresteer. Die waarde van die dwelms word op net minder as 12 miljoen Namibiese dollar beraam. In die 2021-2022 boekjaar het misdaad met 46 persent toegeneem en drank en dwelms kan veral met verkragting en aanranding verbind word. Owerhede sê dat dwelmhandel op die dorp tot die punt gekom het waar pensioenarisse en skoolkinders gebruik word om dwelms te verkoop.