Rehoboth brand woed steeds

Teen middernag het die reuse-veldbrand net suid van Rehoboth steeds gewoed. Daar was ook teen daardie tyd chaos op die pad omdat daar uiters swak sigbaarheid was as gevolg van die rook. Dit is dieselfde brand waarin die burgemeester van Rehoboth, Enrico Junias, en twee van sy seuns ernstige brandwonde opgedoen het. Hulle is intussen na die hoofstad per ambulans gehaas. Intussen is die brand naby Kalkveld rondom een-uur vanoggend deur boere van die omgewing sowel as Otjiwarongo en Omaruru onder beheer gebring.