Rehabilitasie van fase drie van Trans-Zambezi skop af

Die Namibiese minister van werke en vervoer, John Mutorwa, sê die regering sal voortgaan om hoofweë in die land te rehabiliteer om sodoende beleggings te lok. Mutorwa het gepraat by die amptelike opening van fase drie van die rehabilitasie van die Trans-Zambezi-hoofweg in die Kavango Oos-streek. Mutorwa sê hoë-kwaliteit paaie verseker dat handels- en beleggingsaktiwiteite bevorder word. Die derde fase van die Trans-Zambezi-hoofweg, wat 78 kilometer beslaan, word ten volle deur die regering befonds deur die Padfondsadministrasie, teen ‘n koste van 194 miljoen Namibiese dollar. Die eerste twee fases wat 23 kilometer beslaan, is reeds voltooi. Die Trans-Zambezi-hoofweg is ‘n belangrike handelsroete wat die land onder meer met Zambië, Botswana, Malawi en die Demokratiese Republiek van die Kongo verbind.