Regter vies oor minister, respondent wat versuim om haar bevel na te kom

Regter Essie Schimming-Chase het die minister van landelike en stedelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, sowel as die Kunene se hoof streeksbeampte George Kamseb tot 6 Junie gegee om antwoord te gee oor hoekom haar bevel nie nagekom is nie. Die partye moes ‘n gesamentlike statusverslag teen 3 Mei ingedien het wat nie gebeur het nie. Uutoni dagvaar om Kamseb, wat in Junie verlede jaar weer aangestel is deur die streeksraad, uit sy pos te verwyder. Kamseb het in 2016 sy pos verloor na wangedrag en korrupsie in verband met ‘n tender wat bewys is, maar die raad het hom weer verlede jaar aangestel.