Registrateur van Raad van Gesondheidsberoepe van SA geskors

Die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, Joe Phaahla, het die uitvoerende hoof en registrateur van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika, David Motau, weer voorlopig geskors hangende ‘n ondersoek oor bewerings van wangedrag. Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi, het Motau vroeër die maand ook geskors. Phaahla het die skorsing egter opgehef toe hy as minister aangestel is. Motau word van bedrog en korrupsie tydens sy ampstermyn as hoof van die Vrystaatse departement van gesondheid beskuldig. Die raad se president, Simon Nemutandani, sê Motau se skorsing wat gister in werking getree het, is om die integriteit van die raad te behou.