Rampedi is jammer oor tienling-storie

Die redakteur van Pretoria News, Piet Rampedi, het Independent Media om verskoning gevra oor sy hantering van die storie oor die Tembisa-tienling. Rampedi was eerste met die nuus oor hoe Gosiame Sithole glo geboorte aan tien babas by ‘n hospitaal in Pretoria gegee het. Haar kêrel, Teboho Tsotetsi, het later erken hy het nie die babas gesien nie en is ook toegang tot hulle geweier. Gesondheidsamptenare in Gauteng kon ook nie die geboorte bevestig nie. Rampedi sê hoewel hy hou by die feit dat Sithole verwagtend was en geboorte gegee het, gee hy toe dat sommige aspekte van die storie anders hanteer moes word. Intussen word Sithole in ‘n psigiatriese-eenheid behandel. Terwyl daar geen amptelike bevestiging is nie, is dit twyfelagtig of die tienling ooit bestaan.