R500 miljard nodig om beurtkrag te staak

Die navorsings- en konsultasiemaatskappy, Intellidex glo Suid-Afrika benodig ongeveer 500 miljard Suid-Afrikaanse rand aan private belegging om 15-gigawatt se opwekkingskapasiteit en vyf-gigawatt se batteryberging op te rig. Volgens Intellidex se hoof van kapitaalmarknavorsing, Peter Attard Montalto kan Suid-Afrika hom gereed maak vir sy ergste jaar nóg van beurtkrag, weens die swak instandhouding van opwekkingseenhede en die onklaarraking van steenkoolgestookte aanlegte. Montalto het tydens sy voorlegging aan die Presidensiële Koördineringskommissie vir Klimaatsverandering gesê ‘n bykomende 175 miljard rand is nodig om die kragnetwerk oor die volgende dekade uit te brei.