Proteas klop Ierland

Krieket: Die Proteas het Ierland gisteraand in Dublin met 70 lopies geklop om die internasionale een-dag-reeks van drie wedstryde een elk gelykop te maak. Die openingswedstryd het uitgereën en Ierland het die tweede kragmeting met 43 lopies ingepalm. Suid-Afrika het gister 346 vir vier aangeteken. Quinton de Kock en Janneman Malan het in hulle openingsvennootskap 225 lopies opgestapel. De Kock het 120 lopies van 91 balle gemoker en Malan het ‘n onoorwonne 177 van 169 balle bygedra. Die Proteas het die gashere tot 276 in 47,1 boulbeurte beperk.