Proses vir nuwe Swapo vise-president begin vandag

Swapo se politburo vergader vandag om ‘n vise-president, sekretaris-generaal en adjunk-sekretaris-generaal vir die party te nomineer. Terwyl daar geen bevestiging is nie, word daar alom gespekuleer dat die huidige adjunk-partypresident Netumbo Nandi-Ndaitwah, die premier Saara Kuugongelwa-Amadhila, Pendukeni Ivula-Ithana, verdedigingsminister Frans Kapofi, arbeidsminister Utoni Nujoma, omgewingsminister Pohamba Shifeta en Jerry Ekandjo van die kandidate is. Na vandag se vergadering en nominasies sal die party se sentrale komitee die naweek vergader om nog nominasies te bespreek. Die kwessie van die party se bepalings oor kandidate se ouderdom sal ook onder die loep kom by die naweek se vergadering. Hage Geingob is party-president en dit blyk asof hy in die amp sal bly na 2024 wanneer sy termyn as landspresident tot ‘n einde kom. Daar word verwag dat die party se vise-president Swapo se presidentskandidaat sal wees.