Prins Andrew vermy Epstein-ondersoekers

Amerikaanse aanklaers sê prins Andrew is ‘n persoon van belang in hulle ondersoek na die doen en late van Ghislaine Maxwell en haar ontslape vriend Jeffrey Epstein. Ondersoekbeamptes wil Andrew ondervra en het aan Amerikaanse media gesê dat Andrew homself vals uitgebeeld het as iemand wat die ondersoek wil bystaan maar het tot dusver alle onderhoude met owerhede van die hand gewys. Dit wil volgens berigte voorkom dat hy hulle vermy. Een van die vermeende slagoffers van die Epstein mensehandel-sage, Virginia Guiffre het vroeër die maand ‘n saak by ‘n federale hof in New York teen Andrew aanhangig gemaak. Sy sê Andrew het haar gedwing om omgang met hom te hê toe sy 17 was. Andrew ontken die aantygings en sê hy ken haar nie, maar daar is foto’s van die twee saam in Epstein se huis. Epstein is in 2019 dood in sy tronksel aangetref en Maxwell, wat in aanhouding is, se verhoor begin in November. Sy het onskuldig gepleit.