President van Krieket Namibië sê spelers is gereed vir uitdagings

Die president van Krieket Namibië, dr. Rudie van Vuuren, het gereageer op die wedstryd-skedule vir die T20 Wêreldbeker in Australië. Vir Namibië se Richelieu Eagles lê die uitdaging voor om soos by verlede jaar se T20 Wêreldbeker-debuutverskyning in die Verenigde Arabiese Emirate tot die Super 12-fase te probeer deurdring. Om dit te vermag, sal afrigter Pierre de Bruyn se manne weer as een van die top-twee spanne uit die viertal in groep A moet eindig – met wedstryde teen Sri Lanka op 16 Oktober, twee dae later teen Nederland en op 20 Oktober teen die Verenigde Arabiese Emirate. Dr. Van Vuuren sê aan Kosmos 94.1 Nuus die manne sal gereed wees vir die uitdaging.