Francoise Steynberg
Ek het op ‘n plaas in die Okahandja-distrik grootgeword in ‘n huis met die radio altyd aan, vol troeteldiere en wilde weesdiere – ‘n leeu, koedoekalwers, bakoorjakkalse en vlakvarke.
Ek is ‘n kampvegter vir diere en alles en almal wat weerloos is en nie n stem het nie – kinders, vroue, bejaardes en gestremdes. Nuus en goeie koffie is my verslawings. Ná 20 jaar in die koerantwese en renosterstropers agter tralies in skryf, is dit vir my opwindend om nuus vir die radio te skryf én te lees.
Ek is baie nuuskierig en het in meer as 30 lande gereis om saam met ander kulture te eet, sing en dans en vreemde tale te leer. My voetspore lê die wêreld vol, maar my hart lê in my hartland Namibië waar ek ons asemrowende sonsondergange geniet.
Alhoewel ek in Mandaryns met Chinese renosterhoringsmokkelaars kan baklei , is Afrikaans my taal en lees ek graag Afrikaanse fiksie.