Premier sê Wes-Kaap is verby piek van vierde Covid-vlaag

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsie is nou verby die piek van sy vierde Covid-vlaag, en hy verwag ‘n afname in positiewe gevalle in die komende weke. Hy sê, hoewel die kruin van die vierde vlaag hoër was as dié van die tweede en derde, was daar aansienlik minder hospitaliserings. Winde het ‘n dringende oproep gedoen op die regering om die nasionale noodtoestand op te hef, omdat syfers volgens hom onweerlegbaar toon dat die proses sonder ‘n noodtoestand bestuur kan word. Hy sê die tyd het aangebreek om die proses te normaliseer.