Polisieman vas vir Angola-wapensmokkelary

Inspekteur Kamina Alfonso van Nampol se wapeneenheid op Rundu is in hegtenis geneem op klagte van wapensmokkelary. Alfonso, 40 jaar oud, is saam met ‘n burgerlike Johanna Abiatar, 38, gearresteer op klagte dat hulle wapens na Angola smokkel. Volgens Nampol se woordvoerder adjunkkommissaris Kauna Shikwambi, het die twee reeds op Rundu in die landdroshof verskyn en hulle sal weer Vrydag voorkom in die hof. Die smokkel van wapens na Angola was onlangs in die nuus met die Nampol hoof, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga wat saam met sy Angolese eweknie Arnaldo Carlos, ‘n gesamentlike ondersoek in April geloods het. Ndeitunga het daardie tyd gesê dat vervalste dokumente gebruik word om die wapens oorgrens te neem.