Plofstof in bevolkte gebiede is grootste bedreiging vir burgerlikes

Die internasionale menseregte organisasie, Human Rights Watch, sê die gebruik van wapens wat plofstof bevat in bevolkte gebiede is een van die grootste bedreigings vir burgerlikes in moderne gewapende konflik. Die organisasie sê in sy jongste verslag dit is meestal burgerlikes wat sterf of beseer word wanneer wapens soos lugbomme, vuurpyle, artillerie en missiele in bevolkte areas gebruik word. Human Rights Watch doen ‘n beroep op lande om die verklaring te ondersteun wat spesifiek daarop gemik is om mense in bevolkte gebiede te beskerm teen wapens wat plofstof bevat.