Plaaswerker kry borg wat vermeende stroper doodskiet

Die vermeende wildstroper wat op die plaas Salzbrunnen naby Kombat in die Otjozondjupa-streek doodgeskiet is, is as die 37-jarige Simon Seveleni geïdentifiseer. Hy is doodgeskiet in ‘n heen en weer skietery met twee plaaswerkers wat die plaas gepatrolleer het. Hy was glo deel van vier gewapende mans wat die plaas betree het. Die plaaswerkers het aanvanklik waarskuwingskote in die lug afgevuur, maar die mans het glo teruggeskiet. Sevelini is doodgeskiet en die ander drie het op die vlug geslaan. Een van die verdagtes is Dinsdagaand in hegtenis geneem. Volgens Nampol het die 38-jarige plaaswerker, Wilhelm Goaxab, Dinsdag in die Otavi-landdroshof op ‘n moordklag verskyn en hy is vrygelaat op borgtog van 3 000 Namibiese dollar.